Gemeenskapsprojek

Thembi’s Crèche

Vanuit die behoefte om ook ons eie gemeenskap te dien, werk Voortrekker sedert die begin van 2019 saam met Thembi’s Creche. Hier word leerders die geleentheid gebied om aan hul gemeenskap terug te gee in die vorm van diens.

Een keer per week bring ‘n skoolbus vol leerders ‘n uur by die creche deur. Hier speel ons soms net buite met die kinders. Ons probeer baie keer ‘n kunsprojek aanpak, wat wissel van pasta-juweliersware tot vingerverf. Ons vind dit ook belangrik om ‘n paar basiese vaardighede aan te leer, soos hoe om met ‘n hoelahoepel te speel, ‘n sokkerbal te skop en die lekkerste van alles, saam te sing en dans.

Met Paasfees en Kersfees maak ons dit ekstra spesiaal vir die kinders deur ‘n Paaseier skattejag te hou, ons eie hasie maskers te maak en seker te maak dat elke kind bederf word met ‘n Kersgeskenk.

Leerders wat nie die weeklikse uitreik kan bywoon nie, kan ook bydra tot ons fondsinsamelingsgeleenthede.

Dit is belangrik dat ons by die Hoërskool Voortrekker nie net fokus daarop om leerders akademies voor te berei op die wêreld daarbuite nie, maar dat ons hulle ook leer om jong volwassenes te wees wat besorg is oor diegene in nood rondom hulle help.

Vories Help Vories

Ons is bewus daarvan dat lede van ons gemeenskap in hierdie moeilike tyd gesukkel het om kop bo water te hou. Ons is bly om u in kennis te stel dat ‘n hulpprogram van stapel gestuur is. Gesinne wat kos of noodsaaklikhede benodig kan hulp vra deur ‘n e-pos aan caring@riverwoodcollege.co.za te stuur.

Omgekeerd kan gesinne en individue wat hulp kan verleen, die onderstaande besonderhede gebruik om donasies te skenk.

Bankbesonderhede:
Hoërskool Voortrekker
Nedbank
1372016120
Tjek
Verwysing: Caring
(Neem asseblief kennis: Hierdie verwysing is baie belangrik!)